Gebakte Alaska

(Sien ook die resep vir die Oondpan Koek)

Gebruik 'n halwe plaatkoek vir dié resep. Koek wat effens gevries is,
werk goed omdat die roomys dan selfs minder smelt. Sny die koek in
blokkies of druk sirkels met 'n skonsdrukker uit. Besprinkel elke
stukkie koek met likeur of soetwyn. Maak soveel bolle roomys soos
stukkies koek wat jy wil gebruik en sit 'n bol roomys bo-op elke
stukkie koek. Sit in die vrieskas tot benodig. Klits 4 eierwitte (teen
kamertemperatuur) in 'n skoon bak tot stywe punte vorm. Voeg 250 ml
strooisuiker lepelsgewys by. Hou aan klits tot die mengsel dik en
blink is. Voorverhit die oondrooster net voor jy die gebakte alaska wil
bedien. Skep of spuit die meringue oor elke koek en roomysstapel en
smeer elk heeltemal toe. (daar moenie enige roomys of koek uitsteek
nie.) Druk vinnig onder die oondrooster en sit dadelik voor.